Ek het dit verloor

Ek het dit vandag weer verloor. Ek voel soos die stiefma uit Aspoestertjie. Is dit te veel gevra van jou kinders om net dit wat hulle rondgegooi het op te tel? Nou moet ek mooipraat, dreig, die houtlepel uithaal en uiteindelik skree soos ‘n mal ding terwyl die rook by my ore uitborrel. Dit laat Aspoestertjie se stiefma na die goeie feë lyk.

My oudste is nou 5 en die jongste is 2. Ousus is oor die algemeen die voorbeeldige een en ek het selde moeilikheid met haar. Die jongste, aan die anderkant, kyk of sy mamma kan laat mure uitklim. Ek probeer regtig kalm bly maar party dae kan ek net nie meer nie. Sy sal weier, maak nie saak wat ek doen nie. En so hardloop ek getrou na Google toe, want dit weet mos alles. Eers wil ek google vir die emosionele impak op die kind as die ma haarself net uit die spore sou maak, maar ek het die goedjies so lief ek sal hulle mis voor hulle my mis so dit is nie ‘n opsie nie. Nou soek ek ‘n woord vir my 2-jarige se gedrag. Merrie? Nee, kry net skouperde. Moedswillige merrie? Nee, kry net ‘n klomp resultate van horse-whisperers. Dalk nie ‘n slegte idee nie. Op die stadium probeer ek enige iets. My moeilike 2 jarige? En daar breek die Internet amper want daar is te veel vrae, antwoorde en artikels oor die probleem. Nou waar begin ek lees?

Dit is my krisis kortliks opgesom: Hoe gemaak met Mej Ek-sal-nie-ek-wil-nie-probeer-maar-jy-sal-my-nie-oortuig-nie?

Dit is normaal. Wat? Ek maak die eerste artikel toe en maak nog 10 oop en almal begin basies so. Ek moet dus vrede daarmee maak. Nie so maklik gedoen as jy al 10 minute lank sukkel om skoene aan te trek nie. Maar hier is hoekom dit normaal is en ons moet vrede maak daarmee.

Hierdie weerstand van die klein diktators wys dat hulle normaal ontwikkel. Hulle begin hulself as apart van jou sien en kom agter dat hulle ‘n eie persoon is met hulle eie denke, idees, emosies en voorkeure. Daarom wil hulle hulle sê sê. Hulle wil in beheer voel van hulself en al manier is om jou teë te gaan. Op dié ouderdom het meeste kinders  nog ‘n beperkte woordeskat en is dit vir hulle moeilik om presies aan jou te verduidelik wat hulle gevoel en denke oor ‘n situasie is. Hulle wil voel hulle kan beheer neem oor hulleself deur nee te sê.

 

Nou goed. Hoe gedoen om nie my kop te verloor nie. Hier kom die moeilike maar moontlike deel: Ons moet leer om kalm te raak. As ons kalm kan bly is ons in beheer van die situasie. Sodra jy jou humeur verloor gaan boetie of sussie s’n ook by die deur uit en dan word dit ‘n magstryd. Ons dwing dan ons wil af op die kind en dit word (erken dit maar) met min liefde gedoen. ‘n Handige truuk wat ek by iemand geleer het is om op jou hand te kyk en jou vingers te begin tel tot jy kalm voel. Dit klink belaglik maar ek daag jou uit om dit te probeer. Dit werk. Aanvanklik gaan jy baie vingers tel, maar dit raak makliker en jy wys dan ook vir jou kinders hoe om hulself te kalmeer.

Nog iets wat ek gevind het werk en wat baie van die mammas se blogs wat ek lees of artikels wat ek ontdek sê, is om jou kind keuses te gee. Omdat hulle hul eie identiteit wil vorm en ons hulle moet lei is hierdie nogal belangrik. Ek lees hierdie spesifieke raad só dikwels raak as ek raad en leiding soek vir my parmantige kleuter. Vanoggend sukkel ek vir die soveelste keer om my jongste se baadjie aan te kry dat ek weer op die punt is om dit te verloor en haar daarin te forseer, wat haar in trane los en my in ‘n hopie op die vloer. Toe gaan die liggie aan in my kop. Op ‘n stadium het ek en ousus ook oor klere gestry en toe sê iemand: “Gee haar ‘n keuse.” Aanvanklik het ek gedink dis belaglik maar sou enige iets probeer om die bakleiery stop te sit. So in die oggende haal ek twee stelle klere uit en sy kan kies. So voel sy dat sy volle beheer oor haar keuse het en kan ek nog bietjie leiding gee sonder dat sy agterkom. En so gee ek toe vir kleinsus ook die keuse vanoggend en daar sonder moeite kies sy en trek aan sonder om te kla.

So kan jy hulle elke dag baie keuses laat maak binne perke en voel hulle meer in beheer oor hulleself. Dit werk regtig en jy kan dit gerus probeer.

Laaste wat ek nou wil deel is ook om kwaliteit tyd saam met elke kind te spandeer. Dit hoef nie lank te wees nie maar jy moet ten volle jou aandag net by haar/hom hê. Die naweek was my jongste onmoontlik en teen Sondag middag weet ek nie meer wat om met haar streke te maak nie. (Ek moet net byvoeg dat ek doodsiek was van die Vrydag af en Pappa moes maar instaan.) Terwyl ek op die bed lê en myself bejammer klim japsnoet op met haar speelgoed-apie. Sonder dat ek daaraan gedink het begin ek met haar speel met die apie wat met haar gesels en drukkies en soentjies gee. Ons het vir ‘n maksimum van 10 minute gespeel totdat haar pa haar kom kry om saam met hom te ry. Van daardie oomblik af het ons ‘n ander kind gehad. Sy was die dierbaarste en het vir lank op haar eie gespeel en net so af en toe kom “hallo” sê. Dit wys dat kwaliteit altyd kwantiteit klop as dit by jou tyd kom saam met jou kinders. Laat elke sekonde tel al is dit net vir 5 minute.

 

Ek sal graag van julle wil hoor. Julle stories en raad. Dit is vir my so belangrik dat ons met mekaar sal deel. En net sodat van julle wat wonder weet, ek het my twee engele so lief, selfs op die dae wat ek wil weg hardloop. Ek kan nie my lewe sonder hulle instel nie. Ook is dit okei as ons soms voel ons kan nie meer nie. Solank jy jouself net weer optel en weer die een voet voor die ander begin sit. Daarom moet ons mammas saamstaan en mekaar ondersteun. Wees lief vir jouself en jou beker sal oorloop na jou mense!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui