Orde! Orde!

Om orde in jou huis te skep is geen maklike taak. Veral as jy twee klein orkaantjies het en dan nog jou vierpoot kinders ook ingooi. Resep vir gemors gewaarborg. Nou moet ek eers bieg dat as dit kom by opruim ek ook maar lekker lui kan wees. Dit is eintlik vreemd want my ma is ‘n perfeksionis en ek is net mooi die teenoorgestelde. Ek probeer regtig maar soms voel ek om handdoek in te gooi.

So, soos meeste vrouens vandag wat doen ons as ons hulp nodig het? PINTEREST! En so het ek nou al ‘n hele folder bymekaar gemaak oor hoe om jou huis te orden en 2 jaar later het ek dalk 5 van die artikels gelees en te min daarvan toegepas. Maar dit wat ek gelees het is regtig baie oulik en sal werk. Hoe kry ek myself gemotiveerd? Maak ‘n Tuisskool sentrum oop en laat vreemdelinge deur jou deurmekaar huis loop na die perfekte klaskamer terwyl jy saggies doodgaan van skaamte.

 

Na dié gevoel is dit nou sulke tyd! Ek kan, en ek wil, en ek sal orde skep! Hoor ek ‘n Hiep! Hiep?

Dit is belangrik om te besef en gou daarmee vrede te maak dat jy nooit jou hele huis in een dag gaan regruk nie. Maak sommer nou vrede daarmee. Anders gaan jy na ‘n paar dae moed opgee en soos ek al tevore gedoen het net ophou. Stel vir jouself realistiese doelwitte. Een ding op ‘n slag. Ons het so portaaltjie wat die pak plek geword het vir alles. As jy by my agterdeur instap lyk dit of die deurmekaar monster jou gaan insluk. Die spasie moet eintlik ingerig wees vir al my arty-crafty-goeters. Ek het besluit om in dié vertrek te begin. Eerstens, omdat dit is waar meeste mense inkom in my huis en tweedens, omdat ek my craft goeters wil uitsorteer en nie eers ‘n uur vir ‘n sekere skêr moet soek nie. Dit het soos ‘n berg voor my gelê en ek het besluit ek sal ten minste ‘n week hiervoor nodig hê. Daarom het ek ‘n hele week opsy gesit en die res van die huis gelos. Nou nie heeltemal gelos nie maar my fokus was die portaal. Op die ou-einde het dit net 2 oggende gevat om hom reg te pak. Hy is nog nie 100% soos ek hom wil hê met al my toebehore nie, maar dit is netjies.

Besluit op ‘n tyd wanneer jy ‘n koffie breuk gaan vat sodra jy begin werk. As daardie tyd aanbreek hou dadelik op en vat jou breek. As jy voel dit is genoeg vir vandag en môre is nog ‘n dag is dit ook reg. Die doel is om gemotiveerd te bly. As jy die doelwit te hoog stel gaan jy moed verloor en dan gaan die taak een groot marteling word. Geniet jou koffie sonder skuld en beplan dan verder: Gaan jy na die koffietjie aan of gaan jy môre aan?

 

Jy is ‘n mens,nie ‘n towertante nie en dit is okei. Jy hoef nie op een dag wonders te verrig nie. Die magic kom daarin om na die taak (ongeag van hoe lank dit geneem het) terug te staan en te sien wat jy verrig het.

‘n Laaste wenk vir nou. Kry jou mense betrokke. Ek het eenkeer hierdie oulike idee gelees en ons pas dit ook toe en dit werk. Elke aand laat almal vir 10 of 15 minute opruim in die huis. Deel werkies uit sodat elkeen weet wat hy/sy moet doen (en ja, vir manlief ook). Stel ‘n wekker en spring aan die werk. Jy sal verbaas wees wat hierdie paar minute elke dag maak. Probeer dit en hou vol daarmee. En só kweek ons weer een goeie gewoonte by jou kinders!

 

Deel asseblief julle raad ook! Ek sien uit om van julle te hoor!